WINTER IS OPPAD UIT!
Moenie vergeet om genoeg winter kos te maak voor dit weer te warm word nie. Heerlike stomende sop, kerrie en rys ens. Sommer alles wat lekker is. Ek is baie lief vir Sapioensop. So maklik om te maak.
Sampioensop
Jy het nodig:
500g gesyde sampioene
1 fyngesnyde ui
1 blikkie Sampioensop
1 pakkie sampioensop
2 liter melk
250ml room
Maak so:
Braai ui in klein bietjie olie en botter. As dit so begin deurskynend raak, voeg sampioene by en braai effens. Nie te
veel nie. Meng soppoeier met melk en voeg by, nou die blikkie sop en spoel die blikkie met helfte water. Kook nou
stadig vir sowat 20 min. Onthou die melk kan oor kook as dit te vinnig kook en moenie 'n deksel op sit nie. Nou is
daardie sop heerlik gaar en kan bedien word. Skep in sop bakkies en roer so bietjie room by elkeen. As verkies kan
die room voor bediening in die pot sop net so 2 draaie geroer word sodat dit 'n effense streep deur die sop maak.
Is dit nou nie heerlik saam 'n botterbroodjie of tuisgebakte brood nie! Geniet dit!
Hier by ons in die winderige Gordonsbaai, moet ek sê :" ons mis die windjie in die winter maar is tog te dankbaar dat hy nie
te veel waai nie, want dan het ons werklik gevries. " Maar so is dit in die ou lewe van ons, alles kom en gaan. Vandag is dit koud maar net more begin jy die bloeisels opmerk en besef dan, lente is oppad. Lente in baie van ons se lewens - jonk, verlief, miskien net begin werk, besig om jou eie lewe en budget te begin uitwerk. Moet begin dink aan die toekoms. Waar begin ek. Almal moet eers kruip voor hulle kan begin opstaan of loop. Geniet jou jong lewe, dit gaan ook stadig maar seker verby. Werk, trou, huis opsit, bymekaar maak, kinders grootmaak. Dit alles klink so maklik, onthou net - regte besluite!
Gedurende lente is alles so mooi en skoon, al die blomme lyk te vrolik en die voëltjies sing van vroeg oggend af. Dit laat mens so heerlik wakker word dat jy sommer voel dat jy wil saam sing en dans. Ek weet elke dag is nie regtig so opgewonde en vrolik in almal van ons se lewens nie, selfs ook nie in my eie nie, maar dit is juis daarom wat 'n mens anders moet dink oor elke dag. Hulle sê elke mens moet 'n droom hê anders het hy nie 'n lewe nie. Juis, ek dink dit is waar en dit is waarom ek nie iemand is wat droom oor allerhande goed en dinge om te besit nie, nee wat, ek droom oor gesondheid, geluk, lag, vrede, liefde en die lewe geniet met alles wat ek kan sien en hoor en ervaar. Goeters en dinge kan nie vir my geluk gee nie. Dit is dooie goed. Baie goed en dinge kan mens nie sonder lewe nie of maak net dood eenvoudig die lewe vir jou makliker, maar hoeveel geluk lê daarin? Ja so stap ons die SOMER in sonder dat ons agter gekom het dat die lente verby is!
Dit is somer, die lente is verby. Sommiges se gesinnetjies het gegroei soos die Liewe Vader ook al vir elkeen beskik en ook wat sommiges se eie besluite was. Nou is dit net vorentoe kyk, hard werk en allerhande opofferings maak om die gesin bymekaar te hou. Onthou dit is nie kinderspeletjies om 'n gesin te hê nie, nee, dit kos baie harde werk, genade van bo en volharding. Somer is sommer baie lekker, die sonskyn, ons beplan vakansies, hou braaivleis, geniet sommer net die lewe. Kinders word groot en wil al hoe meer hê. Die kompetisie met die vriende word meer want ons kan nie afsteek nie of moet so wees om in die vriendekring te kan bly en in te pas. Wat 'n ROT RESIES!
Met die blomme en bome gaan dit goed. Solank hulle water kry, al is dit nie elke dag nie, groei hulle voort. Dra die lieflikste en lekkerste vrugte, as die goggas nie alles bykom nie, sodat ons kan smul aan allerhande sappige lekkerte wat van bome afkom. Hulle word nie kwaad vir mekaar, of kompeteer met mekaar of is afgunstig op mekaar nie. Nee, elkeen het sy plekkie aan 'n takkie, partykeer raak die spasie maar min en druk hulle teenmekaar soos hulle groei en die spasie maar min raak maar hulle groei styf teenmekaar en groei ook sommer vas aan mekaar. (Wie van ons word nie ook maar bietjie groter soos die jare aangaan nie?) Daar word geploeg en geplant, gesaai en geoes. Dit is groente en vrugte, blomme, voëls, insekte. Wat 'n bedrywigheid om genoeg kos voorrade te produseer vir die mensdom. Net so wil alles in 'n rus ingaan. Dit word herfs.
Met die kinders wat nou meer uit die huis se kant staan, klaar met skool en baie opgewonde om onder ma en pa se ferm hand uit te kom en self te begin beplan en te besluit oor hul eie dinge, raak dit soms stillerig in die huis. Pa en ma begin nou bietjie stadiger werk en minder koop. Die kinders is groot en het hulle eie idees en joune is nou in elk geval outyds en sonder smaak. Die nuwerwetse dinge werk nie altyd vir ouers so maklik nie want hulle is gewoond aan die ou goed. Wie wil nou 'n nuwe wiel uitvind as die oue nog werk! Kinders, oftewel jong mense met hulle kinders is nou hard besig om weer hulle lewens te leef terwyl die ouer mense wat nou in hul herfs jare is, die lewe baie meer rustig vat en nie kan glo dat 'n dag dan nou so kort geword het nie. Ek doen nog steeds alles wat ek al die jare doen maar lank voor die einde in sig is, is die son al besig om onder te gaan. Kan nou nie meer so mooi sien nie en gebruik by tye al wraggies meer medisyne vir die pyne. Die hare word ligter, die plooie sigbaar en die lyf al bietjie ronder.
Net so verkleur die meeste bome se blare van groen na allerhande mooi en helder kleure. Hulle word net mooier. Asemrowend om so 'n laning bome met herfskleur blare te sien, en wat van die druiwe wingerde? Pragtig. Foto mooi! Ek kan nie glo dat dit heeltemal moet afval nie. Alles en almal is besig om in 'n rus in te gaan. Ek sou kon sweer dit is hoe 'n somer vakansie moet wees. Rus en doen niks vir amper 'n hele seisoen! Waarlik, nes ek gedink het, hier is die winter alweer!
Dit word nou regtig koud, ek dink my bloed is nou net dunner as toe ek nog jonger was, die hare minder. Ek wil nou net lekker warm in die effense sonnetjie wat so skraal skyn sit en sien of hy my kan warm bak. Nee wat, bring maar 'n kombersie nader. Lekker breiwerk maak mens ook meer warm, veral die hande. As die hande tog maar net nog so soepel was soos 'n paar jaar gelede. Party winter mensies is nou alleen sonder 'n maat, party is in aftree oorde, ander in oue tehuise, sommiges is gelukkig om mekaar nog te hê. Nou sit ons en wag vir die einde. Alles het 'n einde. Party vat net langer as ander. Dit het niks te doen met wie en wat jy is nie. Jou einde is ook in sig. Baie meer pyne, baie meer medisyne. Baie minder om te sien en baie minder om oor te lag want ek is maar alleen en kan ook nie meer so goed hoor nie. Hou nie van geselskap nie want ek kan net gesêls oor al die ou dae en almal wil nie al die ou stories oor en oor hoor nie. Die kinders is ook besig met hul eie lewens en bedrywighede en ek gun hulle dit. Ek het my dae gehad en gaan hulle nie laat sleg voel omdat ek alleen en oud is nie. Hulle gaan ook daar kom en moet nou voluit lewe voor hulle ook hier sit.... Ek dank my Hemelse Vader dat ek nog my oudag kan geniet al is dit net om asem te haal, die wolke te bewonder, die veld en bome dop te hou. Dankie Here.
So verloor die ou bome ook nou daardie mooi herfsblare van hulle, meeste van hulle. Die kaal perskebome, sonder 'n blaar. Ai so stokkerig. Kan jy glo dat daardie selfde boom weer volgende jaar vol bloeisels en blare en vrugte sal wees. So wonderlik is ons Liewe Vader. Ons dink ons sien om na die bome, blomme en ag sommer na die hele wêreld maar NEE, ons lewer maar net 'n bydrae. Soos die mens se seisoene van die lewe aan 'n einde kom, so kom elke seisoen op die aarde ook aan 'n einde. Niemand kan dit keer nie, dit moet gebeur en dit sal gebeur.
Dankie Liewe Hemel Vader dat U die seisoene van ons mense op aarde in U getroue hand vashou en wanneer ons dink die winter van ons lewe eindig met 'n laaste asem wat ons uitblaas, gee U ons die EWIGE LEWE! Wie wil dan huil oor die wonderlike lewe waarheen ons geneem word as ons uit hierdie aarde weg gevat word. Amen.