Monday, August 29, 2011
LEWE VANDAG
Vandag is dalk jou laaste dag van hierdie lewe. So, hoekom dan nie maar voluit lewe terwyl dit nog vandag is nie.
Geniet wat jy het, geniet wie jy is, geniet wie naby jou is en geniet ook wat om jou is.
Wat is so naby soos om net te lewe?
Ek geniet dit om in die oggend wakker te word en te weet ek kan oor die see uit kyk, sien hoe die son sy strale oor die berge begin gooi en stadig die hele land verlig. Kan jy glo dat die son so 'n verskriklike groot area op aarde, op een slag kan lig maak. Sjoe, en ons kan dit elke dag beleef.
Is dit nie ongelooflik goed om soveel met hierdie twee klein ogies, wat die Here vir jou gegee het om mee waar te neem, te kan sien nie? Om te dink daar is soveel mense daar buite wat dit nie kan beleef nie. Nou kla ek en jy oor allerhande klein dingetjies wat van minder belang is. Man, kom ons geniet net weer hierdie kosbare lewe van ons.
Het jy al na al die pragtige wolke bo jou gekyk? Het jy al op 'n mooi aand plat op jou rug gelê en na die sterre gekyk? Het jy al gesien hoe vol waterdruppels sommige takkies van 'n boompie of plantjie is na 'n buitjie reën? Het jy al gekyk na die blink streep wat 'n slak agter laat? Het jy al 'n voël dopgehou wat sweef in die wind? Het jy al gekyk hoe die wind bome rondwaai en 'n papier tot vèr in die lug opwaai?
Nee man, jy het nog baie meer as dit om na te kyk, so…. maak tyd en kyk! Onthou, geniet dit vandag.
Friday, August 5, 2011
Subscribe to:
Posts (Atom)