Tuesday, September 6, 2011

DIE LENTE IS WERKLIK HIER!

Van hierdie pragtige bloeisels het ek afgepluk en in 'n blompot in my sitkamer gesit. Vir 'n baie kort rukkie kan mens hierdie pragtige blommetjies besigtig voordat hulle blaartjies begin afval en daar net mooi niks van die skoonheid van die fyn, pienk ruiker oorbly nie. Daarom moes ek dit baie nader aan my hê om dit sommer elke oomblik  te kon geniet.

So kon ek met elke verby loop gou kyk, hoe gaan dit nog met die mooi pienk bloeisels. Kort voor lank kon ek sien hoe die blaartjies hulle lewe begin verloor en stadig maar seker verkleur. Met groot verwondering het ek na die groen blaartjies gekyk wat deurentyd nog gegroei het. Nog meer het dit my aangegryp hoe daar tot selfs baie klein vruggies begin vorm nadat die blomblaartjies afgeval het. Nou nie by elke blommetjie nie, maar tog so hier en daar sit die klein persketjie. Is dit nie wonderlik dat dit steeds nog aanhou groei,  na waarheen dit oppad was, al is dit weggebreek van die boom se stam af, daar waar al die voeding vandaan kom. Stadig maar seker verloor dit ook die lewe en begin verlep. Nou is dit tyd vir die asblik en nuwe vars kappertjies vol kleur kan nou weer die blompot versier..

Dit is seker ook maar hoe dit in die lewe van ons mensdom gaan. As 'n pa en ma in liefde leef en respek vir mekaar het, voel die res van die gesin veilig en gee dit vir hulle 'n vaste fondament. Solank 'n klein kindjie in liefde versorg word deur sy ouers, is hy gelukkig. Solank mens se familie en vriende vir jou lief is en almal mekaar wardeer, is dit lekker om te lewe en mekaar te sien. So kan ons mense nie sonder mense klaarkom en bestaan nie. Ons het almal liefde en aanvaarding nodig en dit maak dat ons soveel meer van onself wil gee om weer ons liefde en omgee uit te leef. 

Ongelukkig is alles nie so maklik nie. Nee, sonder ons Liewe Hemelse Vader, Jesus Christus, kan al hierdie goed nie gebeur nie. Eerste, en heel eerste, moet Jesus Christus aan die hoof van ons gesin staan. Dit is wat liefde is. Dit is waar sonder ons nie kan bestaan nie. As ons van die groot liggaam afgebreek word en eenkant neergesit word, gaan ons almal defnitief verlep en ook in die asblik beland. As ons nie lief is vir die Here nie, kan ons ook nie vir mekaar lief wees nie, want God is Liefde. Hy gee ons lewe, en Sy genade is so groot dat elkeen van ons op hierdie aarde 'n deel daarvan kan hê. Dit is die besluit wat elkeen self moet neem.

" Liewe Jesus, baie dankie dat ons onself U kinders kan noem. Baie dankie dat ons met al ons seer en kwellinge na U toe kan kom. Here, help ons om aan U getrou te bly en vas te hou dat ons nie verlore kan raak nie. Dankie Liewe Jesus dat U ons in U liefde omvou en vashou. Vergewe ons sondes en dankie vir U groot genade wat U so onverdiend oor ons uit stort. Amen."

Thursday, September 1, 2011

Ongelooflik!?

Wat op aarde beteken ... ongelooflik...?  Het dit enigiets met geloof uit te waai of het dit alles daarmee te doen, of dalk niks?  Is dit maar net 'n manier van praat? Ek weet nie, ek vra maar net.

Skielik een dag, nadat ons 'n lieflike orrel met pype en al in ons kerk gekry het en die mense wat dit installeer, weke daaraan gewerk het om die wonderlikste klank daar uit te laat hoor, kon ek nie glo wat ek uit my eie mond hoor nie. Ek het so bietjie na agter in die kerk gestaan en die hele storie so bekyk met my mond wat oopgehang het. Toe hoor ek myself sê:  " Ongelooflik!".

Kon nie glo so 'n pragtige orrel staan in hierdie klein kerkie van ons nie. Maar wat is  ongelooflik. Hoe meer ek daaraan dink, hoe minder klink dit reg om te sê,   ongelooflik. Beteken dit sonder 'geloof ' of is dit net 'n manier om asemrowend uit te druk. 

Dit is ongelooflik lekker by die see, dit is ongelooflik mooi, die klank is ongelooflik hard. Nogal 'n ongelooflike lekker woord en nogal ongelooflik beskrywend ook!

Geniet 'n ongelooflike lekker aand!